MATTHÉÜS 6:25, 27 AFR53

January 16, 2025

25. Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe — wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam — wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?

27. Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?


***


Kern gedeelte:

"Moenie julle kwel oor jul lewe"


As jy die tyd neem wat jy spandeer om jou te sit en bekommer oor die dag van môre, en jy spandeer dit in gebed, in toenadering tot GOD, sal jy GOD se plan vir jou lewe soveel beter verstaan, en jy sal sien hoe GOD se hand in jou lewe begin beweeg.

Dit sal teweegbring dat jy vrede sal ervaar, soos GOD se Woord vir ons sê, vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Dit sal GOD se plan vir jou lewe tot uitvoer bring, en daarmee ook GOD se Goedheid en Guns.

Ek sê dit weer, bekommernis en twyfel is die boublokke van die verderwer, en dit waaraan jy jou aandag spandeer sal die kern van jou lewens bestaan word.


-------


GEBED.


VADER, dankie dat U ons daaraan herhinner dat hoe nader ons aan U leef, hoe kleiner sal ons probleme wees en ons bekommernis oor die dag van môre sal nie meer die kern van ons bestaan wees nie, want ons sal lewe met die wete dat die Lewende GOD is in beheer van my lewe. Leer ons asb om nie bekommerd te wees oor die dag van môre nie want ook daarvoor het U reeds voorsien.

In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir U vrede in ons hart.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: +27716283107

March 10, 2026
21. jy dan, wat 'n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat 'n mens nie mag steel nie, steel jy? 22. Jy wat sê dat 'n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel? Jy wat 'n afsku van die afgode het, pleeg jy tempelroof? *** Kern gedeelte: Jy wat preek dat 'n mens nie mag steel nie, steel jy? Miskien is dit tyd dat ons eers voor ons eie deur vee, voordat ons ander op hulle foute wil wys en as ons eie huis nie in orde is nie, hoe wys ons 'n vinger na ander. Vanoggend wil ek dit openlik sê, pasop vir diegene wat met die Bybel onder die arm loop, maar met die duiwel waar hy nie moet wees nie. Dit is die persoon wat voorgee, dit is die persoon wat ander oordeel terwyl hulle self van die pad af is, self onder die tafel deurknoei, en ander mense van die pad af lei. Met die woord van GOD op hulle lippe sal hulle jou besteel en beswader. Deur voorgee lyk hulle soos wit geverfde grafte, maar van binne is hulle vol verrot. ------- GEBED. VADER, laat U Heilige Gees ons asb wys waar ons besig is om die pad byster te raak. Waar ons U nie in waarheid dien nie, maar 'n lewe van voorgee begin lewe. Ons is almal mens en ons maak foute, maar gee ons asb die wysheid om uit ons foute te leer sodat ons nie op U genade se rug sal ry nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat die ware kleure van mense in ons lewe te voorskyn sal kom. Amen.  ------- Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
March 9, 2026
10. En hy het vir my gesê: Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby. 11. Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. 12. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. *** Kern gedeelte: "en wie vuil is, laat hom nog vuiler word" Dit is nie ons plig of ons werk om iemand se lewe vir hulle te lei nie. Nog minder moet ons 'n wrok dra, oor wat ander aan ons gedoen het, want slegs die persoon wat met onvergifnis in hulle hart rondloop word daardeur benadeel. Wanneer jy GOD se Woord aan iemand oorgedra het, hom voorgestel het aan die Evangelie van ons Verlosser, JESUS CHRISTUS, het jy jou deel gedoen. Woorde gaan nie verder help nie, elkeen van ons moes maar ons eie foute maak, ons kop aanhou stamp totdat ons begin luister het na die inwerking van die Heilige Gees, die aanraking van JESUS CHRISTUS, in ons lewe. Daarom sê die Woord: Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. -------- GEBED. VADER, nie een van ons kan 'n vinger wys nie, en nie een van ons kan 'n ander oordeel nie, want daar was 'n tyd wat ons self ver van U verwyderd gelewe het. Ons bid vandag vir elkeen wat nog nie 'n ontmoeting met ons Verlosser gehad het nie, laat U Heilige Gees asb harte aanraak, verandering bring wat lei tot bekering. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat waar ons gaan, ons almal sal vertel van GOD se Liefde en die redding deur U Seun. Amen. ••••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
March 5, 2026
11. want ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word; 12. dit is, dat ek saam bemoedig kan word onder julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my. *** Kern gedeelte: "dat ek saam bemoedig kan word onder julle" Ek ervaar meer en meer dat mense net vir hulleself leef, want as mense bymekaar kom, is dit nie dat hulle mekaar opbou nie, maar mekaar eerder vermy in die geselskap, of probeer afbreek. As dit die geselskap is waarin jy tans verkeer, is jou op die verkeerde plek, in die verkeerde geselskap. Wanneer jy gevul is met GOD se Heilige Gees sal jy woorde spreek wat stig, en nie woorde wat afbreek nie. Laat ons let op die woorde wat ons spreek, laat ons mekaar opbou, stig en versterk. Dan sal ons saam bemoedig kan word deur die gemeenskaplike geloof in GOD en die Evangelie van Sy Seun, JESUS CHRISTUS. Die wêreld hier buite het genoeg negatiewe te sê oor GOD se kinders, dat ons werklik nie nodig het om mekaar verder te ondermyn nie. ------- GEBED. VADER, in U kry ons die krag om mekaar te stig en op te bou, want ons weet dat een of ander tyd het almal hulp, ondersteuning, lyding en onderskraging nodig. Wanneer ons met mekaar spreek, laat ons opbou en nie afbreek nie, laat ons stig en nie verkleineer nie. Laat ons nooit op mekaar neerkyk nie, maar laat ons mekaar eerder ophelp as ons val. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U ons sal verwyder uit geselskappe waar ons nie moet wees nie. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
March 4, 2026
8. Laat my u goedertierenheid in die môre hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U. 9. Red my van my vyande, Here! By U skuil ek. 10. Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in 'n gelyk land. *** Kern gedeelte: "maak my bekend die pad wat ek moet gaan" Baie oggende wanneer ek reeds van half twee of twee uur op die pad is, het ek baie tyd om met GOD te praat, dit wat verby is te hersien, weer te deurdink en te leer uit my foute, te kyk waar ek nie aan GOD se leiding deur Sy Heilige Gees gehoorsaam was nie. Ook kyk mens na die prys van ongehoorsaamheid, die ompaaie wat ek dan moes stap. Wanneer jy tyd neem en GOD se plan in hersiening en oorweging neem, raak dit makliker om die struikelblokke raak te sien wat die "verderwer" in jou pad plaas. Dan word GOD se Woord 'n lamp vir jou voet en 'n lig vir jou pad. Een ding wat ek egter nie doen nie, is om my te bekommer oor die dag van môre nie, want die volgende keer wat GOD nie voorsien nie, sal die eerste keer wees. ------- GEBED. VADER, uit U hand kom ons leiding, voorsiening, beskerming en berusting. In hierdie oggend, te midde van alles, wil ons aan U die eer gee, ons wil U loof, prys en dank, U Naam groot maak. Leer ons om U welbehae te doen, want U is ons God. Laat U goeie Gees ons lei in 'n gelyk land. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat ons die goedheid van GOD sal raaksien in hierdie dag. Amen.  ••••••• Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
March 3, 2026
7. sodat julle voorbeelde geword het vir al die gelowiges in Macedónië en Acháje. 8. Want van julle uit het die woord van die Here weerklink nie alleen in Macedónië en Acháje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan, sodat ons nie nodig het om daar iets van te sê nie. *** Kern gedeelte: "maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan" Jy is nie geroep om met vrees deur die lewe te gaan nie, maar met die Krag van GOD, om in outoriteit te beweeg, en die Evangelie van JESUS CHRISTUS te verkondig, tydig en ontydig. Moenie na spesiale plekke soek om GOD se Woord te verkondig nie, maar doen dit daar waar jy is, doen dit op elke plek. Waar jy vandag geplaas is, wie jy ookal ontmoet, onthou dat GOD maak nie foute nie, iemand wag op 'n Woord en jy is gestuur om dit uit te dra. ------- GEBED. VADER, dankie dat U ons vanoggend daaraan herhinner, dat maak nie saak waar ons is nie, ons primêre taak is om U Woord uit te dra en die Evangelie van U Seun te verkondig. Gee ons asb die krag om nie terug te staan nie, maar dat ons vorentoe sal beur, in die krag van U Heilige Gees. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U Woord lewendig op ons lippe sal wees. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
March 2, 2026
21. omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. 22. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword *** Kern gedeelte: "Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is" Soos die gesegde gaan, meng jou met die semels en die varke vreet jou op. As jy met mense omgaan wat die grootheid van GOD nie erken, en nie aan GOD die eer gee nie, gaan jy die pad byster raak. Sistematies met tyd, sal jy dwaas word in jou oorlegginge en jy sal 'n onverstandige hart groei wat in die duisternis van die wêreld leef. Die Lig van JESUS CHRISTUS sal nie meer in jou gesien word nie en ook nie meer deur jou kan skyn na ander toe nie. Wees versigtig met wie jy omgaan, met wie jy jou bevriend, wie jy in jou huis en jou lewe toelaat. Soos 'n dief in die nag sal die sonde jou oorval en jy sal deel word van die wêreld en die oordeel van GOD wat vir hulle beplan is. Onthou hierdie gesêgde: Meng jou met die semels, en die varke vreet jou op. ------- GEBED. VADER, in U Hand is ons veilig en solank U Heilige Gees ons lewens vul, ons verlig om in U Waarheid te wandel, kan die duisternis nie vatplek kry nie. Laat ons asb vanoggend besef dat duisternis bloot net die afwesigheid van lig is en dit kan ons net binnedring wanneer U Gees nie in ons teenwoordig is nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons die U Lig van Verlossing nie net in ons sal skyn nie maar ook deur ons. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings