PSALMS 143:8-10 AFR53
8. Laat my u goedertierenheid in die môre hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U.
9. Red my van my vyande, Here! By U skuil ek.
10. Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in 'n gelyk land.
***
Kern gedeelte:
"maak my bekend die pad wat ek moet gaan"
Baie oggende wanneer ek reeds van half twee of twee uur op die pad is, het ek baie tyd om met GOD te praat, dit wat verby is te hersien, weer te deurdink en te leer uit my foute, te kyk waar ek nie aan GOD se leiding deur Sy Heilige Gees gehoorsaam was nie.
Ook kyk mens na die prys van ongehoorsaamheid, die ompaaie wat ek dan moes stap.
Wanneer jy tyd neem en GOD se plan in hersiening en oorweging neem, raak dit makliker om die struikelblokke raak te sien wat die "verderwer" in jou pad plaas.
Dan word GOD se Woord 'n lamp vir jou voet en 'n lig vir jou pad.
Een ding wat ek egter nie doen nie, is om my te bekommer oor die dag van môre nie, want die volgende keer wat GOD nie voorsien nie, sal die eerste keer wees.
-------
GEBED.
VADER, uit U hand kom ons leiding, voorsiening, beskerming en berusting. In hierdie oggend, te midde van alles, wil ons aan U die eer gee, ons wil U loof, prys en dank, U Naam groot maak. Leer ons om U welbehae te doen, want U is ons God. Laat U goeie Gees ons lei in 'n gelyk land.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat ons die goedheid van GOD sal raaksien in hierdie dag.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107






