HEBREËRS 10:36-39 AFR53

March 10, 2025

36. Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry.

37. Want nog 'n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie.

38. Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie.

39. Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.


***


Kern gedeelte:

"Want julle het lydsaamheid nodig"


Om in geloof te staan beteken nie net om in GOD te vertrou nie, te dien nie, maar ook om op GOD te kan wag, al lyk dit of almal rondom jou vooruit beweeg, en net jy bly agter.

Die Woord hierbo is duidelik:

Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie.

Ons het nodig om te verstaan dat dit nie ons wil in GOD se lewe is nie, maar GOD se Wil in ons lewe.

Daarom, so dikwels verander ons van koers reg voor ons deurbraak kom, reg voor GOD se plan in werking kom.

En dan verloor ons geloof, omdat sake en omstandighede teen ons inwerk.

Die slotsom is, jy het lydsaamheid nodig, want deur in geloof op GOD te wag, SAL JY NIE TELEURGESTEL WORD NIE!


-------


GEBED.


VADER, deur ons die geloofspad te laat stap, ons te laat wag op U, bewaar U ons van die strikke van die lewe wat die "verderwer" reeds vir ons opgestel het. As ons terugkyk op ons lewenspad, kan ons sien hoe U ons beskerm het, terwyl ons in daardie oomblik gedink het dat alles net verkeerd loop, en U het ons ingeperk sodat ons nie ons eie kop sou volg, wat tot ons verderf sou gelei het. Dankie vir U ingryping en U Hand van beskerming oor ons lewe.

In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir lydsaamheid om in geloof te kan wag.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: +27716283107

December 18, 2025
1. As die Here nie vir ons was nie — laat Israel dit sê 2. as die Here nie vir ons was toe die mense teen ons opgestaan het nie, 3. dan het hulle ons lewendig verslind toe hulle toorn teen ons ontvlam het; 4. dan het die waters ons oorstroom, 'n stroom het oor ons siel gegaan; 8. Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. *** Kern gedeelte: "As die Here nie vir ons was nie" Al was ons hierdie jaar al deur diep water en bittere beproewings, het GOD ons deurgedra tot waar ons vandag is. Met sekere tye kon ons nie die lig sien aan die einde van die tonnel nie, en tog is ons ook daardeur. Dit laat my dink aan die foto waar iemand saam JESUS op die strand gestap het, waar die twee rye spore in die sand, net een ry spore geword het. Toe die persoon terugkyk kom die vraag op, waarom het U my verlaat. JESUS het geantwoord, waar jy die een ry spore sien, is waar jy nie meer kon nie, en Ek het jou gedra. Mag GOD ons ook deur die res van hierdie jaar dra, en as GOD nie vir ons was nie, laat ons dit dan sê, want ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het. ------- GEBED. VADER, in dankbaarheid kom ons vanoggend voor U, in dankbaarheid gaan ons hierdie nuwe dag in, want U het gesê dat U ons nooit sal faal en dat U ons nooit sal verlaat nie. Vergewe ons asb ons twyfel en onsekerheid en maak ons asb standvastig in U. Laat ons nie deur die golwe van die lewe rondgeslinger word nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir elkeen wat die stryd teen kanker veg. Lê asb U genesende hande op elkeen. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
December 17, 2025
3. Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; 4. want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur GOD om vestings neer te werp, *** Kern gedeelte: "maar kragtig deur GOD" As die woorde so bietjie byt vanoggend, laat dit dan so wees! Waar jy GOD betrokke maak, sal jy oorwin, maar sonder GOD in jou lewe, sal jy in struikeling eindig. Ons wil so graag op onself roem, maar ons kan nie eers ons volgende asemteug waarborg nie. En as jy vandag moet roem, roem dan in GOD, deur Sy Seun JESUS CHRISTUS, wat alles vir jou moontlik gemaak het, vir jou die verlossing gebring het en jou terug gelei het na GOD toe. In ons eiewysheid mag ons dalk gedink het, dat ons het alles tot hier toe hanteer, maar ons was nie bewus van die aller-om beskermde teenwoordigheid van ons Skepper nie. Miskien moet ons net vir 'n oomblik terug dink hoe GOD ons versterk, gedra en beskerm het tot waar ons vandag is. Aan ons GOD al die lof, en eer, en laat ons Sy Naam grootmaak. ------- GEBED. VADER, waar ons vandag voor U stilraak, word ons so mooi daaraan herhinner waar ons krag vandaan kom. Min besef ons eintlik dat U kragtig deur ons werk om die aanslae teen te staan, terwyl ons soms nie eers daarvan bewus was nie . Ons dank U vanoggend dat U ons lei deur die inwerking van U Heilige Gees, en ons beskerm waar ons magteloos voor die "verderwer" staan. In die Naam van ons Meester YESHUA, dank ons U vir die beskerming, leiding, wysheid en insig waar U ons daagliks gee op ons lewenspad. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
December 16, 2025
13. Wie is die man wat lus het in die lewe, wat dae liefhet om die goeie te sien? 14. Bewaar jou tong vir wat verkeerd is, en jou lippe dat hulle nie bedrog spreek nie. 16. Die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep. 19. Die Here is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees. 20. Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom. *** Kern gedeelte: "Menigvuldig is die teëspoede" Ons mag miskien in die wêreld wees, maar ons is nie van die wêreld nie. Een ding is baie seker! Hoe nader ons aan ons Skepper beweeg, hoe meer sal die wêreld teen ons draai. Daaglikse probleme sal oor ons pad kom, maar deur gebed sal jy krag kry om dit te oorkom. GOD sal niks oor jou pad laat kom, waarvoor Hy jou nie die krag sal gee om dit te oorkom nie, om dit te oorwin nie. Daarom sê GOD vir ons deur Sy Woord: Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom. Moenie moed verloor nie want die oë van GOD is op die regverdige! ------- GEBED. VADER, almal smag na 'n lewe sonder probleme, terwyl U deur U Woord vir ons sê, dat probleme deel van ons lewe sal wees. Laat ons nie versuim om te bid, en U te kên in elke saak nie. Deur ons eiewysheid sal ons struikel, maar as ons tyd op ons knieë voor U deurbring sal ons staande bly voor die wêreld. Dankie dat U ons versterk teen elke aanslag in ons lewe. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die krag en inwerking van U Heilige Gees in ons lewe. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
December 15, 2025
6. Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. 7. Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief. 8. En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk. *** Kern gedeelte: "Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem" Vanoggend wil ek twee dinge onder jou aandag bring! Die eerste is dat ons nie met 'n toe hand deur die lewe kan gaan nie. Soos ons met 'n oop hand gee sal ons ook met 'n oop hand van GOD af ontvang. Maar pasop, nie almal is dankbaar vir die hulp nie, want hulle lewe in die gretigheid en hebsug na meer. Wat vandag se hulp is, word môre se verwagting. Soos miere stroom na die suiker, stroom die misbruikers na die persoon wat te maklik uitdeel. Daarom is dit nodig om te bid en te vra vir die Leiding van GOD se Heilige Gees in elke saak, laat die Heilige Gees aan jou openbaar waar hulp werklik nodig is. Ja, GOD het die blymoedige gewer lief, maar onverskillige hulp gaan later jou tot spyt en las wees. ------- GEBED. VADER, hierdie skrif gedeelte word orals deur misbruikers gebruik om op mense se gevoel te speel, om hulp te verleen waar dit nie nodig is nie. Ons vra dat U ons sal lei in hierdie saak en laat ons weerstandig sal word deur die inwerking van U Heilige Gees, sodat ons nie in die strikke van misbruik sal trap nie. Laat dit asb op ons hart gelê waar hulp werklik nodig is. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir U Leiding, Wysheid en Insig sodat ons met ge-opende oë die pad kan stap. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283108
December 11, 2025
11. OMDAT ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig; maar voor God is ons openbaar, en ek hoop om ook in julle gewetens openbaar te wees. 13. Want as ons uitsinnig is, is dit tot eer van God; en as ons by ons verstand is, is dit om julle ontwil. 14. Want die liefde van Christus dring ons. *** Kern gedeelte: "Want die liefde van Christus dring ons" Wanneer jy werklik JESUS CHRISTUS aanvaar het as jou Verlosser en Saligmaker, kan jy nie anders as om die Evangelie van Verlossing te verkondig nie. Dit sal in jou handel en wandel gesien kan word want jy het die liefde vir GOD, die respekvolle vrees vir Hom leer ken as ons Abba Vader. Dit kan nie anders nie! As die Gees van GOD by jou inwoon, sal jy jou nie meer skaam oor die Woord van GOD of die Evangelie van Sy Seun nie. Inteendeel, dit sal oorkook in jou, soos 'n bruis tablet in 'n oorvol glas water. Waar jy vandag uitgaan, laat toe dat die Gees van GOD deur jou spreek tot ander. ------- GEBED. VADER, ons vra vir die krag, wysheid en insig om ander van U Woord, U Verlossings plan te leer, sodat hulle ook U Seun sal aanneem as hulle persoonlike Verlosser en Saligmaker. Laat U Heilige Gees deur ons werk om ander mense na U toe te lei. Laat ons nooit swyg oor U, of Woord nie. In die naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die vrymoedigheid om U Woord te kan verkondig. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
December 10, 2025
16. DAAROM gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. 18. omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. *** Kern gedeelte: "DAAROM gee ons nie moed op nie" Miskien was jy 'n jaar gelede in 'n posisie waar jy gedink het dat jy dit nie sou maak tot aan die einde van daardie jaar nie, en tog hier is jy vanoggend waar jy die boodskap lees of luister. Ons omstandighede verander daagliks maar ons standvastigheid in GOD verander nooit. As jy vanoggend oorweldig voel, onthou waar jou krag vandaan kom, draai jou gesig weg van die tydelike, van jou omstandighede en begin fokus op GOD. Lees GOD se Woord en spandeer tyd in gebed, en weet dat Hy is ons GOD wat die onmoontlike, moontlik maak. Die wiel van die lewe hou aan draai, en wat vandag onder mag wees, stel GOD môre weer bo. Onthou, alles sal vergaan maar die Woord van GOD, die sal bly staan. ------- GEBED. VADER, in twyfel sien ons slegs die negatiewe, want dit is beeld wat die wêreld vir ons voorhou, maar as ons verby die tydelike kyk, sien ons die groter plan wat U vir ons berei het, want U plan vir ons lewe is 'n toekoms van lewe en oorvloed. Gee ons asb krag sodat ons tydelike omstandighede ons nie sal oorweldig nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die krag om staande te bly in die oomblik van storms. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings