I KRONIEKE 19:12-13 AFR53

April 7, 2025

12. En hy het gesê: As die Arameërs vir my te sterk word, dan moet jy my te hulp kom, en as die kinders van Ammon vir jou te sterk word, sal ek jou te hulp kom.

13. Wees sterk en laat ons saam moedig wees vir ons volk en vir die stede van onse God. Mag die Here dan doen wat goed is in sy oë!


***


Kern gedeelte:

Mag die HERE dan doen wat goed is in Sy oë!


Daar gaan 'n tyd kom wat die oormag voor jou groot is, die situasie voor jou baie moeilik lyk.

Moenie huiwer nie, moenie twyfel nie, neem die besluit, berei jou deeglik voor, en doen alles wat menslik moontlik is.

Vra ander om jou te help, net soos wat jy ook bereid moet wees om op die regte tyd hulp aan ander te verleen.

Die res van die saak, los jy dan in GOD se hande, laat Sy Wil geskied, want jou sukses, jou oorwinning sal nie deur die hand van vlees wees nie, maar deur die Hand van GOD wat die onmoontlike, moontlik maak.

Beweeg in geloof, en jy sal aanskou hoe GOD jou vooruitgaan, jou oorwinning bewerkstellig.


-‐-----


GEBED.


VADER, hier waar ons vandag staan, lyk die situasie onmoontlik, lyk die oormag te groot. Maar ons weet dat ons hulp nie van die wêreld sal kom nie, maar deur die reddende regterhand van GOD. Laat ons egter besef dat ons ook 'n deel het om te doen. Ons moet deeglik voorberei, ons moet ons deel doen, ons beplanning moet tot oorwinning wees, en ons moet nie vir die nederlaag voorberei nie. Ons moenie die stryd gewonne gee, nog voor ons begin het nie.

In die Naam van ons Meester YESHUA, plaas ons die saak van sukses, die saak van oorwinning in U Hand.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: +27716283107

January 1, 2026
1. MY seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar 2. want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder. 3. Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart 4. dan sal jy genade vind en 'n goeie insig in die oë van God en die mense. *** Kern gedeelte: "MY seun, vergeet my onderwysing nie" Almal het sekere voorneme vir die nuwe jaar wat vandag begin het, almal wil graag beter doen en sekere dinge verander. As daar een ding is wat ek hierdie jaar wil doen is dit om GOD se Woord nie net te lees nie, maar in diepte uit te leef, en dit uit te leef sonder kompromie. Die wêreld druk al hoe harder en verwag dat ons as GOD se kinders net meer en meer moet agteroor buig. As ons nie staan vir iets in hierdie lewe nie, dan lewe ons vir niks. Staan op, neem 'n standpunt in, en lewe voluit vir GOD deur Sy Woord prakties uit te leef. Laat die wêreld sê en doen wat hulle wil, maar laat ons nooit GOD se onderwysing vergeet, of ons hart sy gebooie laat verbreek nie. -------- GEBED. VADER, in hierdie oggend kom ons voor U en vra vir 'n nuwe begin. Laat ons die seer en mislukkings van gister agterlaat en besef dat vanoggend is 'n splinternuwe dag, 'n splinternuwe begin. Laat ons die geleentheid aangryp om die pad hierdie jaar saam met U, binne U Wil te stap. Laat U Heilige Gees ons asb lei op die pad wat U behaag. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir vrede, vreugde, voorspoed en gesondheid oor elkeen wat hierdie boodskap lees of luister. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
December 31, 2025
16. Want sewe maal val die regverdige en staan weer op, maar die goddelose struikel in die ongeluk. 17. As jou vyand val, verheug jou nie; en as hy struikel, laat jou hart nie juig nie, 18. dat die Here dit nie sien en dit miskien verkeerd is in sy oë en Hy sy toorn van hom afwend nie. *** Kern gedeelte: "Want sewe maal val die regverdige en staan weer op" Waar ons vanoggend hierdie boodskap lees, is ons aan die einde van 2025, nog 'n jaar is verby. Aan die begin van die jaar het ons waarskynlik gedink dat ons nie hierdie jaar sal deursien nie, en tog, hier is ons, GOD het ons daadwerklik deurgedra. So is die lewenspad, en daarom staan daar geskrywe sewe maal val die regverdige en staan weer op. Die krag wat jou oprig, wat jou laat opstaan kom die van die wêreld nie, maar van die Lewende GOD wat die hemel en die aarde gemaak het! Soos hulle in Engels sê, life might knock you down but is will never keep you down. En selfs waar ons vyande gestruikel het, het ons, onself nie daaroor verheug nie, maar GOD gevra om hulle deur te help sodat hulle nog die geleentheid gegun word om JESUS CHRISTUS as hulle Verlosser en Saligmaker aan te neem. ------- GEBED. VADER, dankie dat ons vanoggend die laaste dag van die jaar 2025 kan beleef, en die eer aan U kan gee. Waar ons nie meer kon nie, het U ons deurgedra, het U ons opgerig, sodat ons kon besef dat uit ons eie krag sou ons nie hierdie jaar kon deursien nie. Open asb ons oë vir ander se nood sodat ons die helpende hand kan uitreik na iemand wat dit nodig het. In die Naam van ons Meester YESHUA, dank ons U vir nog 'n jaar wat ons die pad saam met U kon stap. Amen. -------  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
December 23, 2025
7. En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my 'n doring in die vlees gegee, 'n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. 8. Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. 9. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. *** Kern gedeelte: "dat ek my nie sou verhef nie" Deur die verloop, die meule van die lewe, het ek geleer dat dit wat ek as my doring in my my vlees gesien het, dit wat my tot struikeling was, juis deur GOD daar geplaas is om my te beskerm teen myself. Sonder die gegewe probleem sou ek waarskynlik te vroeg begin beweeg het, meer voortreflik gewees het op tye wat omstandighede nie daarvoor gereed was nie. Persoonlike groei moes eers plaasvind, GOD moes deur hierdie doring in ons vlees ons karakter bou, en ons moes eers leer om dit te kan waardeur wat GOD later op ons pad sou bring. Baie persone wat vanoggend hierdie boodskap lees, sal hiermee kan identifiseer, waar hulle ook voel dat sonder hierdie probleem in hulle lewe sou hulle baie beter gedoen het, verder vooruit gewees het in die lewe. Maar as jy in stilte voor GOD terug kyk oor die saak, eers dan besef jy dat alles in die lewe het 'n seisoen, en tot nou toe was die seisoen nie reg nie. Al die leg-kaart stukkies van GOD se plan was nog nie in plek nie, omdat ons eers ons nederigheid voor GOD moes vind. Want as ons in nederigheid op ons knieë voor GOD bly, sal ons kan staande bly voor die ,"verderwer" teen sy planne om ons van GOD se plan te weerhou! ------- GEBED. VADER, vir jare lank reeds bid ons reeds oor hierdie doring in ons vlees, want in die begin het ons dit as 'n straf gesien maar namate die jare aangestap het, kan ons nou terugkyk en sien hoe U ons daardeur beskerm het omdat ons eers moes groei, eers sterker moes word om die probleme van die wêreld direk aan te spreek. Ek weet nou dat selfs met hierdie doring in my vlees het U ook 'n doel gehad. Dankie dat U hierdeur, my teen myself beskerm het. In die Naam van ons Meester YESHUA, dank ons U vir hierdie doring in ons vlees en elke probleem wat ons gehelp het om te laat groei en deurlopend sterker gemaak het. Amen. °°°°°°°°  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
December 22, 2025
5. Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus; 6. nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen 7. en met goedwilligheid die Here dien en nie mense nie, *** Kern gedeelte: "nie met oëdiens soos mensebehaers nie" Soveel van ons probeer nog die mens behaag deur ons optrede waar ons onself probeer voordoen wie en wat ons nie is nie. Maar as ons JESUS CHRISTUS ontmoet het, en geleer het om binne GOD se Wil te leef deur die Leiding van die Heilige Gees, dan verander sake. Wat die mense dan van ons dink, skeel ons min, en soos ons deur die Gees gelei word, so sal ons doen. Solank as wat ons bereid is om voor die opinie van mense te buig, sal ons nie in die Wil van GOD leef nie. As jy GOD in waarheid dien, is die keuse baie maklik. So, voor jy vanoggend voortgaan met dit wat jy wil doen, stop 'n oomblik en maak seker hoekom jy dit wil doen, wie jy wil behaag? ------- GEBED. VADER, ons trap so maklik in die slaggate van die lewe omdat ons die mens gunse wil doen, omdat ons die mens wil behaag sonder om daaraan te dink wat U Wil vir ons lewe is. Laat U Heilige Gees asb vanoggend op ons hart inwerk sodat ons sal wegdraai van ons weë, sodat ons U Wil sal kies bo alles in ons lewe. Vergewe ons asb ons menslike tekortkomeninge. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir U Leiding en rigting in ons lewe. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
December 19, 2025
27. Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is 'n man van verstand. 28. Selfs 'n sot sal as hy swyg, vir wys gereken word; as hy sy lippe toehou, vir verstandig. *** Kern gedeelte: "Selfs 'n sot sal as hy swyg, vir wys gereken word" Ek was vanoggend reeds besig om 'n ander gedeelte uit GOD se Woord voor te berei om uitgestuur te word, maar hierdie gedeelte het so swaar op my hart gelê dat ek van voor af begin het. Maar gehoorsaamheid aan GOD deur die leiding van Sy Heilige Gees is beter as 'n offer, as die vet van ramme. Miskien gaan vanoggend se boodskap nie net daaroor om ons woorde in te hou nie, maar oor gehoorsaamheid om van koers te verander wanneer ons die inspraak van die Heilige Gees ervaar. Terug na vanoggend se Skrif gedeelte, verstaan asb die volgende: Nie elke vraag is 'n antwoord werd nie, en soms is stilbly ook 'n antwoord. Bly kalm, en plaas 'n wag voor jou mond, want woorde is soos dons vere in die stormwind, dit kan nooit weer terug getrek word nie. ------- GEBED. VADER, vanoggend kan ek nie besluit of U 'n waarskuwing rig en of U bloot gehoorsaamheid aan die leiding van U Heilige Gees toets nie. U Woord is 'n lamp vir ons voet en 'n lig vir ons pad, en daarom is dit vir ons belangrik om die pad te stap waarop U ons lei. Leer ons asb om in gehoorsaamheid aan U Stem te lewe. Laat die twyfel wat die "verderwer" in ons lewe saai ons nie van koers af druk nie. In die naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir elkeen op ons paaie wat gaan reis. Hou asb U Hand van beskerming oor elkeen. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
December 18, 2025
1. As die Here nie vir ons was nie — laat Israel dit sê 2. as die Here nie vir ons was toe die mense teen ons opgestaan het nie, 3. dan het hulle ons lewendig verslind toe hulle toorn teen ons ontvlam het; 4. dan het die waters ons oorstroom, 'n stroom het oor ons siel gegaan; 8. Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. *** Kern gedeelte: "As die Here nie vir ons was nie" Al was ons hierdie jaar al deur diep water en bittere beproewings, het GOD ons deurgedra tot waar ons vandag is. Met sekere tye kon ons nie die lig sien aan die einde van die tonnel nie, en tog is ons ook daardeur. Dit laat my dink aan die foto waar iemand saam JESUS op die strand gestap het, waar die twee rye spore in die sand, net een ry spore geword het. Toe die persoon terugkyk kom die vraag op, waarom het U my verlaat. JESUS het geantwoord, waar jy die een ry spore sien, is waar jy nie meer kon nie, en Ek het jou gedra. Mag GOD ons ook deur die res van hierdie jaar dra, en as GOD nie vir ons was nie, laat ons dit dan sê, want ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het. ------- GEBED. VADER, in dankbaarheid kom ons vanoggend voor U, in dankbaarheid gaan ons hierdie nuwe dag in, want U het gesê dat U ons nooit sal faal en dat U ons nooit sal verlaat nie. Vergewe ons asb ons twyfel en onsekerheid en maak ons asb standvastig in U. Laat ons nie deur die golwe van die lewe rondgeslinger word nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir elkeen wat die stryd teen kanker veg. Lê asb U genesende hande op elkeen. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings