I KRONIEKE 22:12-13 AFR53

May 1, 2025

12. Mag die Here jou net insig en verstand gee en jou aanstel oor Israel; en dit om die wet van die Here jou God te onderhou.

13. Dan sal jy voorspoedig wees as jy sorgvuldig die insettinge en verordeninge onderhou wat die Here aan Moses oor Israel beveel het; wees sterk en vol moed, wees nie bevrees en wees nie verskrik nie.


***


Kern gedeelte:

"Dan sal jy voorspoedig wees"


So dikwels sê mense vir my, o maar jy is baie gelukkig, en meestal tot hulle verontwaardiging, kom die antwoord, Nee ek is nie gelukkig nie, ek is geseënd.

Ek dien nie die geluks godin nie, maar wel die Lewende GOD.

Of dit met jou goed gaan of slegs gaan, jy is nou maar een maal die geseënde van die HERE.

Jou huidige situasie, terugslae of probleme bepaal nie jou emosionele welstand nie, want jou vreugde word nie deur die aardse skatte gedryf nie.

Ongeag wat, jy dien GOD met jou hele hart, siel en verstand, en jou vreugde vind jy in die uitleef van Sy Woord.

Daarom, sal jy geseënd wees!


-------


GEBED.


VADER, dankie dat my vreugde, vrede en voorspoed nie van hierdie wêreld is nie, maar in my verhouding met U. Dankie dat U ons, deur U Seun losgemaak het van die "geluk" wat hierdie wêreld bied. Mag ons verhouding met U daagliks verdiep, soos wat ons nader aan U beweeg deur die uitleef van U Woord.

In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat ons, ons vrede, vreugde en geluk in U sal vind.

Amen.


••••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: +27716283107

June 20, 2025
1. JY mag geen valse gerug rondstrooi nie. Verbind jou nie met die skuldige om 'n kwaadwillige getuie te wees nie. 2. Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie. En jy mag in 'n regsaak geen getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie. 3. Ook mag jy die geringe nie voortrek in sy regsaak nie. *** Kern gedeelte: "Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie" Wat gaan ek hieroor sê? Om die meerderheid te volg in die verkeerde dinge is dieselfde as om deur 'n rivier in vloed meegesleur te word. In vloed word alles meegesleur maar soos die water sak, lê die opdrifsel orals op die walle van die rivier. Moenie in die rivier inspring nie, want jy sal uitvind dat as die meerderheid se sensasie verby is, sal hulle weer agter iets nuut aanhardloop maar jy gaan een van die opdrifsels wees wat langs die pad gaan agterbly. Eers dan sal jy besef dat jy eerder op die rots moes gebly tot die vloed gesak het, en dan kon jy die pad van onpartydige opregtheid verder saam met GOD gestap het. Staan vas in ons Rots en Vesting, in JESUS CHRISTUS, en geen vloed sal jou skuif nie. ------- GEBED. VADER, ons word soos golwe van die see voortgedryf, en elke lewens vloed sleur ons mee omdat ons geloof nie in U geanker is nie. Ons Verlosser is nie meer die basis van ons lewe nie en daarom begin ons te wankel. Gee ons asb die krag om weg te draai van die "wêreld" en na U terug te keer. Inndie Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir standvastigheid in ons lewe. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
June 19, 2025
24. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. 25. Wat baat dit 'n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen? 26. Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele. *** Kern gedeelte: "Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde" Ongeag waar, wanneer ons aansit om te eet, dan bid ons en dank ons GOD vir al die seëninge in ons lewe, en waar ek mag gaan vertel ek mense van ons GOD, ons VERLOSSER en die inwerking van die Sy HEILIGE GEES in ons lewe. Die hartseer gedeelte is dat baie mense wat voorgee dat hulle GOD dien, wegskrum en nie aan die gesprek deelneem nie, hulle kan nie vinnig genoeg wegkom nie, of hulle eerste reaksie is, wie kyk of het iemand dalk gesien. Jy kan voorgee solank as wat jy wil, maar die dag van rekenskap gaan niemand mis nie, dan sal hierdie woorde jou oordeel bepaal en daarom lees ek dit weer: Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele. ------- GEBED. VADER, voor U staan ons vanoggend en ons vra vir die krag, sterkte en geloof, sodat waar ons ookal mag gaan, ons U sal verheerlik en die Naam van ons Verlosser sal grootmaak in die teenwoordigheid van die "wêreld". Laat U Naam uitgebeeld word in ons handel en wandel, in ons vriendekring en familie. Laat selfs ons vyande weet, U Reddende Regterhand dra ons en ondersteun ons en daarom sal ons nie struikel nie. In Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die vrymoedigheid om ook aan ander die Evangelie van Redding te verkondig. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
June 18, 2025
2. En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het. 3. En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan. *** Kern gedeelte: "En toe hulle gevas en gebid het" Vanoggend se boodskap is kort, maar tot die punt. Ek oordeel niemand, maar as jy glo dat jy nie kan vas nie moenie begin nie, want jy het reeds opgegee nog voor jy begin het. As jy van opinie is dat daar geen voordeel in vas en gebed is nie, hou vas waaraan jy glo, want dit is steeds jou opinie. Maar weet dat JESUS self aan sy dissipels gesê het, Hierdie geslag kan deur niks anders uitgaan as deur gebed en vas nie. Die wêreld sal jou anders probeer oortuig, maar deur gebed en vas sal jy nie net jou geestelike lewe verbeter nie, maar jou liggaam en gesondheid sal ook daarby baat.. ------- GEBED. VADER, ons vra dat U Heilige Gees ons sal lei oor wanneer ons moet vas, en vir hoe lank. Leer ons asb om 'n GOD welgevalle lewe voor U te lei, en dat ons sal wegdraai van die wêreld en sy sondes, terug na U toe. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons volharding van ons geloof in U. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
June 17, 2025
22. Daarop het die volk hom toegeroep: 'n Stem van 'n god en nie van 'n mens nie! 23. En onmiddellik het 'n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe. 24. Maar die woord van God het gegroei en toegeneem. *** Kern gedeelte: "Maar die woord van GOD het gegroei en toegeneem" Orals waar jy mag gaan op jou lewenspad sal jy mense teëkom, wat jy dwarsboom, jou sal probeer ondermyn. Toe ek jonger was het dit my gepla en wou ek vuur met vuur bestry, maar namate die jare aangestap het, het ek besef dat al wat ek moet doen is om in geregtigheid te bly staan, op GOD en sy werk te fokus en stil te wees, en die geveg in GOD se hande te los. Daarom sê GOD se Woord, wees stil, Ek sal vir julle stry. Hier het die magtige Herodes, die een oomblik nog vol van homself, nie die eer aan GOD gegee nie, en die volgende oomblik het GOD hom uit die prentjie verwyder, maar die Woord van GOD het gegroei en toegeneem. Daarom, gee aan GOD die eer, wy jou lewe toe aan GOD, en bly staan in Sy onpartydige opregtheid, en sien hoe GOD jou verhoog, hoe jy beklee word met outoriteit. ------- GEBED. VADER, dankie dat U vanoggend bevestig, die geveg, is nie ons geveg nie, maar ons het net nodig om op U, ons verhouding met U, en U werk te fokus. Dankie dat U ons tafel dek voor ons aangesig, in die teenwoordigheid van ons teëstanders, sodat hulle U seën in ons lewe kan sien, maar niks daaraan sal kan doen nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U Goedheid en U Guns ons sal volg al die dae van ons lewe. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
June 16, 2025
33. JULLE moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken. 34. Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. 35. Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn. 36. Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. 37. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word. *** Kern gedeelte: "en uit jou woorde sal jy veroordeel word" Ek het die teksvers gedeelte probeer korter maak, maar elke teksvers ondersteun die volgende teksvers. Ons lewe werklik in 'n tyd waar ons ook kan sê, Addergeslag, want bitter min mense met wie ons paaie kruis is werklik opreg met ons. Voor ons is hulle skynheilig, lewe hulle 'n lewe van voorgee met die hoop om iets by jou te baat. Maar as jy die kraantjie toedraai, en hulle het nie meer nut vir jou nie, dan begin die stories, aantuigings, verdraaide waarheid. Dan leer jy die ydele woorde, wat uit die hart van die mens kom, baie goed ken. Pasop vir die mens teenoor wie jy oopmaak, vir wie jy jou planne vertel en jy jou lewens tekortkomimge mee deel, want dit is feitlik gewaarborg dat daardie persoon môre sal omdraai en alles teen jou sal gebruik tot hulle voordeel. ------- GEBED. VADER, ons besef nie altyd dat die makste honde byt die seerste nie, en daarom praat ons dikwels ons harte uit met die mense wat juis die geleentheid soek om ons in die rug te steek. Plaas asb 'n wag voor ons mond, en gee aan ons 'n gees van onderskeiding sodat ons nie in die strikke van die lewe sal trap nie. Beskerm ons asb teen onself. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat die waarheid in elke situasie na vore sal kom. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
June 13, 2025
2. Die Here is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef. 3. Die Here is 'n krygsman; Here is sy naam. 4. Hy het Farao se strydwaens en sy leërmag in die see gewerp. En sy beste vegsmanne het in die Skelfsee gesink. *** Kern gedeelte: "Die HERE is my krag en my psalm" Vanoggend wil ek die lof, prys en eer aan die HERE gee, en ek wil vir jou sê, as GOD al is wat jy oorhet, het jy alles wat jy nodig het. Waar Moses voor daardie see gaan staan het, het hy tot GOD uitgeroep, want hy het nie meer geweet watter kant toe nie. En GOD antwoord hom: Wat roep jy na My? Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet wegtrek. En jy, hef jou staf op en steek jou hand uit oor die see en kloof dit, sodat die kinders van Israel dwarsdeur die see op droë grond kan trek. Vanoggend wil ek vir jou sê, lig jou staf op in gebed en steek jou hand uit oor jou probleme, jou doodloop straat, en sien hoe GOD vir jou 'n pad oopmaak waar daar nie 'n pad is nie en die onmoontlike, moontlik maak. Ek sê weer, as GOD al is wat jy oorhet, het jy alles wat jy nodig het! ------- GEBED. VADER, U gee oorwinning soos geen mens dit kan doen nie, en U is 'n GOD wat die onmoontlike, moontlik maak! Ons eer en dank U vir die oorwinning, en vir die pad wat U reeds vir ons voorberei het, al kan ons dit nog nie sien nie. Alle eer en lof aan U, ons GOD! In die Naam van ons Meester YESHUA, dank ons U vir U Leiding, U Insig wat U deur U Heilige Gees in ons lewe inspreek. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings