MATTHÉÜS 11:18-19 AFR53
[18] Want Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: Hy het 'n duiwel. [19] Die Seun van die mens het gekom — Hy eet en drink, en hulle sê: Dáár is 'n mens wat 'n vraat en 'n wynsuiper is, 'n vriend van tollenaars en sondaars. Maar die wysheid is geregverdig deur sy kinders.
***
Kern gedeelte:
"en hulle sê: Hy het 'n duiwel"
Waar mense jou "nodig" het, sal hulle jou ophemel, gebruik en misbruik, maar as jy die kraantjie toedraai of as die omstandighede verander so jy nie meer kan help nie, dan kom die ware kleur van die mens na voorskyn.
Dink mooi, as mense dit van JESUS CHRISTUS gesê het, hoeveel te meer sal oor jou en my gesê word.
Laat die opinies van mense oor jou, soos water van 'n eend se rug afrol.
Stap hierdie pad saam met GOD, ken hom in al jou weë, en lewe in Sy onpartydige opregtheid.
Luister na die teregwysing van mense wat waarde bydra in jou lewe, maar sluit die konstante geraas, kritiek en oordeel van die wêreld uit.
Onthou altyd, wat mense sê, is hulle opinie en laat hulle daarby hou!
Maar moenie toelaat dat hulle opinie, jou realiteit word nie.
-------
GEBED.
VADER, leer ons asb vandag dat nie elke woord of uitlating van mense 'n antwoord nodig het nie. Leer ons asb hoe om situasies, wat geen waarde in ons lewe het nie, te hanteer sodat ons nie meugesleur word deur die opinies en kritiek van mense nie. Ons bid vir U leiding en laat ons asb daarteen waak, sodat ons nie eiewys sal wees, en ons eie kop sal volg nie. Laat U Heilige Gees ons asb versterk sodat ons staande sal bly teen die aanslae van die "verderwer".
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir vergifnis van die woorde wat ons in 'n slegte gesindheid teenoor ander gespreek het.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107






