HÁBAKUK 3:17-19 AFR53

August 18, 2025

17. Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie

18. nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil.

19. Die Here Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.


****


Kern gedeelte:

"nogtans sal ek jubel in die Here"


Ek luister hoe mense kla oor hulle finansies, situasies en omstandighede, en ek weet nie altyd wat om te antwoord nie, want elkeen se omstandighede is anders.

Iemand oor die naweek sê toe vir my die volgende:

Daardie man loop en kla, maar hy is nog vêr van Job se situasie af.

Nou ja, toe hou ek ook op met kla want ek is ook nog bitter vêr van Job af.

Nou sê ek eerder, ongeag wat, nogtans sal ek jubel in die HERE, en ek dank GOD vir die voorregte wat ek nog het, soos kos op die tafel en 'n dak oor ons kop.

Laat ons ophou kla terwyl ons nog met die "witbrood onder die arm" loop, terwyl ons nog in GOD se seën lewe.

Miskien nie in ons lys van verwagtinge nie, maar in GOD se seëninge.


-------


GEBED.


VADER, dankie vir hierdie oproep tot realiteit, sodat ons kan besef dat daar ander mense is wat slegter daaraan toe is as wat ons is. Help ons asb vandag om eerdeer ons seëninge te tel as wat ons, ons tekortkominge begin tel. Dankie vir vir stukkie voorsiening uit U Hand en dankie vir ons daaglikse brood.

In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir harte wat dankbaar kan wees vir dit wat ons tans het.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: 0716283107

February 27, 2026
1. Welgeluksalig is die man wat die Here vrees, wat 'n groot welbehae in sy gebooie het. *** Kern gedeelte: "Welgeluksalig is die man wat die Here vrees" Ek wil nie graag iets byvoeg nie, maar wil uit die Woord lees hoe dit met 'n mens gaan wat GOD vrees, en sy gebooie onderhou. * Sy nageslag sal geweldig wees op die aarde die geslag van die opregtes sal geseën word. * Oorvloed en rykdom is in sy huis en sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid. * Vir die opregtes gaan Hy op as 'n lig in die duisternis, genadig en barmhartig en regverdig. * Gelukkig die man wat hom ontferm en uitleen, wat sy sake volgens reg besorg. * Want hy sal nooit wankel nie, die regverdige sal in ewige gedagtenis wees. * Hy vrees nie vir slegte tyding nie, sy hart is gerus, vol vertroue op die Here. * Vas is sy hart, hy vrees nie, totdat hy op sy teëstanders neersien. * Hy strooi uit, hy gee aan die behoeftiges, sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid, sy horing word verhoog in eer. ------- GEBED. VADER, Dankie dat U ons vanoggend daaraan herhinner om in die respekvolle vrees van GOD te leef, U gebooie te onderhou en onpartydig opreg teenoor ons naaste te lewe. Laat U Heilige Gees asb vir ons wys waar ons die pad byster raak en nie volgens U Wil leef en optree nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir U Leiding, Wysheid en Insig in ons lewe. Amen.  ••••••• Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
February 26, 2026
18. En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. 19. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. *** Kern gedeelte: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies" Hoe stap ons hierdie nuwe dag in? Of dit goed gaan en of dit sleg gaan, ons het een van twee keuses hoe ons die wêreld gaan instap! Ons kan instap met 'n gesindheid van nederlaag waar die wêreld ons oorwin het, waar ons spreekwoordelik soos varke in die modder rol, of ons kan instap met die oorwinning van JESUS CHRISTUS in ons lewe. Waar jy met die outoriteit waarmee GOD jou beklee het hierdie dag instap, ander mense bemoedig en stap in die respekvolle vrees en vreugde van ons Skepper, dan kan niks jou van stryk bring nie Dan sal mense JESUS CHRISTUS se Lig deur jou sien skyn, en jy sal nie net met leë woorde die Evangelie van Verlossing verkondig. As jy praat sal GOD se Heilige Gees jou die woorde gee om in outoriteit te spreek, dissipels te maak en hulle te doop in die Naam van die VADER, die SEUN EN HEILIGE GEES. ------- GEBED. VADER, dankie vir hierdie nuwe dag, 'n nuwe geleentheid om U Woord uit te dra, soms met woorde, maar meer dikwels sonder woorde. Waar die mense kan sien dat U in ons leef en dat ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig is nie, maar ons spreek lewe oor ander, en die vrug van U Heilige Gees is sigbaar in ons lewe. Laat ons nooit versuim om U Woord te verkondig en te versprei nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, spreek ons lewe oor elkeen wat nog in die wêreld vasgevang is, want U Lig nog nie kan sien nie. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
February 25, 2026
11. gee ons vandag ons daaglikse brood; 12. en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; 13. en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. *** Kern gedeelte: "soos ons ook ons skuldenaars vergewe" Ons almal glo dat ons die argitek van ons lewens is, maar dit is slegs waar wanneer ons, ons eie kop volg. In hierdie proses maak ons mense seer en word ons deur mense seergemaak en dan begin siklus van onvergifnis. Ons bou mure van isolasie, mure van onvergifnis rondom ons. Onvergifnis is om daagliks 'n klein dosis gif in te drink en te dink dat iemand ander daarvan gaan doodgaan. Die onvergifnis vernietig jou lewe, en die persoon wat jou leed aangedoen het stap skotvry weg. Maar wanneer ons met die saak voor GOD kom en ons sê, VADER ek het vergewe en ek laat hierdie saak nou aan U oor, dan sal jy sien hoe GOD vir jou veg. ------- GEBED. VADER, dankie dat U vanoggend vir ons sê dat ons die verlede moet los waar dit hoort, in die verlede. Gee ons asb die krag om te vergewe, die krag om dit te laat gaan, waaraan ons vashou maar niks kan verander nie. Laat daar asb 'n nuwe lied in ons mond wees, en dat 'n nuwe Lig in ons lewe begin skyn. In die Naam van ons Meester YESHUA, spreek ons vry sodat ons self ook vry kan wees. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
February 24, 2026
38. Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My. 39. En Hy het 'n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil. *** Kern gedeelte: "nie soos Ek wil nie, maar soos U wil" Ook in ons lewe sal daar tye kom wat sekere uitdagings bring, tye wat ons sal bid en vra VADER, as dit moontlik is, laat hierdie beker by ons verbygaan, nogtans nie ons wil nie, maar U Wil. Een ding wat ek deur die verloop van baie jare geleer het, GOD maak nie foute nie! Elke uitdaging, struikelblok, woestyn tyd en siekte wat ons moes oorkom, het ons net sterker gemaak, karakter gevorm en ons deursettings vermoë geleer. Nie alleen dit nie, dit het ons ook geleer om nie sommer net te besluit nie, maar om GOD te ken in elke saak en op Hom te vertrou om ons deur te dra. Maak nie saak wat jou probleem vandag sal wees nie, gee die eerste tree, en GOD sal jou die krag gee, Hy sal jou deurdra, maar jy moet volhard in Sy plan vir jou lewe. ------- GEBED. VADER, soveel keer stap ons weg van U plan vir ons lewe, mis ons die deurbrake wat U reeds vir ons voorberei het, omdat ons nie U plan vir lewe volg nie. Vandag kom ons voor U en vra, nie soos ons wil nie, maar soos U Wil, want ons weet dat U ons reeds tot hiertoe gedra het, krag gegee het, ons vesterk het. Daarom kan ons ook vanoggend sê, met my GOD loop ek 'n bende storm, met my GOD spring ek oor 'n muur. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir krag om te volhard, en nie langs die pad op te gee nie. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
February 23, 2026
13. Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. 14. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg. *** Kern gedeelte: "Vrees God en hou sy gebooie" Daar is soveel verwarring oor wat is reg en wat is verkeerd, en tog is die Woord van GOD so eenvoudig dat selfs 'n kind dit kan verstaan. In Mattheus 6:33 staan geskrywe: Soek eers die Koningkryk van GOD en Sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. As jy GOD se gebooie noukerig lees en verstaan wat jy lees, sal jy in die eerste vier gebooie jou verhouding met GOD verstaan en in die laaste ses, die verhouding tussen mens en mens. Dan begryp ons beter wanneer die Prediker sê: Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Moenie dat mense jou verwar nie, lees self GOD se Woord, spandeer tyd in gebed, en die waarheid sal jou vrymaak. *** GEBED. VADER, laat U Heilige Gees die sluier oor ons oë lig sodat ons die Waarheid vannU Woord kan sien en verstaan. Leer ons asb om weer te glo soos 'n kind en nie in twyfel te staan teenoor U beloftes nie, want U is 'n Waarmaker van U Woord. Laat die boodskap van U Evangelie nie by ons bly nie maar dat ons die waarheid van U Woord versprei met elke geleentheid. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir GOD geseënde lippe wat slegs die waarheid sal spreek. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
February 20, 2026
41. En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? 42. Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. *** Kern gedeelte: "Waak en bid" Die ouer mense het altyd gesê, nee kyk, nou het ek alles gesien! Maar vandag wil ek vir jou sê, nee, jy het nog nie alles gesien nie, want elke dag voeg die "verderwer" 'n nuwe verleiding, in hierdie wêreld by, 'n nuwe wapen wat jy tot struikeling kan bring. Moenie vir een oomblik dink dat jy nie aangeraak sal word deur die sondes en verleiding van hierdie wêreld nie. Alles wat 50 jaar terug ondenkbaar was vir ons ouers, is nou in ons huise en lewens deur middel van media, TV, en Selfone. Nie een van ons is kwytgeskeld nie. en daarom is hierdie boodskap so dringend vanoggend. Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. ------- GEBED. VADER, in hierdie oggend kom ons voor U en belei ons sondes. Ons laat dinge toe wat nie in ons lewens hoort nie en ons maak ons huise oop vir sondes en ons gee toegang tot ons gesin deur goedkeuring daarvan. Gee ons asb die krag om van vandag af, sonde op die naam te noem en laat ons dit nie in ons huise of ons lewens toelaat nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir vergifnis van ons dubbele standaarde. Gee ons asb vandag die krag om te breek met die sonde. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings