JOHANNES 12:24-25 AFR53

July 8, 2025

24. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.

25. Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.


****


Kern gedeelte:

"Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor"


Ek wil vanoggend tot die punt kom en vra, watse vrug dra jy vir jou Verlosser, of is die saadjie van die "eie ek" nog veilig in jou hande.

Dit is eers wanneer jy die aanraking van JESUS CHRISTUS in jou lewe ervaar het dat jy besef, jy moet die "eie ek" begrawe, jou lewe aan GOD toewy sodat daar groei in jou lewe kan plaasvind, waardeur ander mense aangeraak sal word.

As jy nog met die saadjie van die "eie ek"in die hand staan, het jy nog nie oorgegee nie, het jou nog nie jou Verlosser ontmoet nie, nog nie jou lewe aan GOD toegewy nie, en sal hierdie boodskap jou waarskynlik tot aanstoot wees.

Hoe dit ook al sy, as jy hierdie boodskap lees, het jy nog vandag die tyd om sake te verander voor jou lig vir ewig uitgedoof word.

Jou Verlosser staan voor die deur van jou hart en klop, die vraag is, hoe gaan jy daarop reageer.


-------


GEBED.


VADER, dankie vir die geleentheid wat U ons vandag gee, nie net om ons lewe aan U toe te wy nie, maar ook om opnuut te besef dat U vuur in ons afgekoel het, en dat ons, ons Verlosser, ons eerste liefde verlaat het. Plaas asb 'n nuwe lied in ons mond wat sing oor U vuur wat in ons harte brand. Rig ons asb op en maak ons sterk.

In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir 'n geestelike aanraking, waar dit nodig is, en laat hierdie boodskap soos 'n veldbrand versprei.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: +27716283107

February 27, 2026
1. Welgeluksalig is die man wat die Here vrees, wat 'n groot welbehae in sy gebooie het. *** Kern gedeelte: "Welgeluksalig is die man wat die Here vrees" Ek wil nie graag iets byvoeg nie, maar wil uit die Woord lees hoe dit met 'n mens gaan wat GOD vrees, en sy gebooie onderhou. * Sy nageslag sal geweldig wees op die aarde die geslag van die opregtes sal geseën word. * Oorvloed en rykdom is in sy huis en sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid. * Vir die opregtes gaan Hy op as 'n lig in die duisternis, genadig en barmhartig en regverdig. * Gelukkig die man wat hom ontferm en uitleen, wat sy sake volgens reg besorg. * Want hy sal nooit wankel nie, die regverdige sal in ewige gedagtenis wees. * Hy vrees nie vir slegte tyding nie, sy hart is gerus, vol vertroue op die Here. * Vas is sy hart, hy vrees nie, totdat hy op sy teëstanders neersien. * Hy strooi uit, hy gee aan die behoeftiges, sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid, sy horing word verhoog in eer. ------- GEBED. VADER, Dankie dat U ons vanoggend daaraan herhinner om in die respekvolle vrees van GOD te leef, U gebooie te onderhou en onpartydig opreg teenoor ons naaste te lewe. Laat U Heilige Gees asb vir ons wys waar ons die pad byster raak en nie volgens U Wil leef en optree nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir U Leiding, Wysheid en Insig in ons lewe. Amen.  ••••••• Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
February 26, 2026
18. En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. 19. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. *** Kern gedeelte: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies" Hoe stap ons hierdie nuwe dag in? Of dit goed gaan en of dit sleg gaan, ons het een van twee keuses hoe ons die wêreld gaan instap! Ons kan instap met 'n gesindheid van nederlaag waar die wêreld ons oorwin het, waar ons spreekwoordelik soos varke in die modder rol, of ons kan instap met die oorwinning van JESUS CHRISTUS in ons lewe. Waar jy met die outoriteit waarmee GOD jou beklee het hierdie dag instap, ander mense bemoedig en stap in die respekvolle vrees en vreugde van ons Skepper, dan kan niks jou van stryk bring nie Dan sal mense JESUS CHRISTUS se Lig deur jou sien skyn, en jy sal nie net met leë woorde die Evangelie van Verlossing verkondig. As jy praat sal GOD se Heilige Gees jou die woorde gee om in outoriteit te spreek, dissipels te maak en hulle te doop in die Naam van die VADER, die SEUN EN HEILIGE GEES. ------- GEBED. VADER, dankie vir hierdie nuwe dag, 'n nuwe geleentheid om U Woord uit te dra, soms met woorde, maar meer dikwels sonder woorde. Waar die mense kan sien dat U in ons leef en dat ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig is nie, maar ons spreek lewe oor ander, en die vrug van U Heilige Gees is sigbaar in ons lewe. Laat ons nooit versuim om U Woord te verkondig en te versprei nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, spreek ons lewe oor elkeen wat nog in die wêreld vasgevang is, want U Lig nog nie kan sien nie. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
February 25, 2026
11. gee ons vandag ons daaglikse brood; 12. en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; 13. en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. *** Kern gedeelte: "soos ons ook ons skuldenaars vergewe" Ons almal glo dat ons die argitek van ons lewens is, maar dit is slegs waar wanneer ons, ons eie kop volg. In hierdie proses maak ons mense seer en word ons deur mense seergemaak en dan begin siklus van onvergifnis. Ons bou mure van isolasie, mure van onvergifnis rondom ons. Onvergifnis is om daagliks 'n klein dosis gif in te drink en te dink dat iemand ander daarvan gaan doodgaan. Die onvergifnis vernietig jou lewe, en die persoon wat jou leed aangedoen het stap skotvry weg. Maar wanneer ons met die saak voor GOD kom en ons sê, VADER ek het vergewe en ek laat hierdie saak nou aan U oor, dan sal jy sien hoe GOD vir jou veg. ------- GEBED. VADER, dankie dat U vanoggend vir ons sê dat ons die verlede moet los waar dit hoort, in die verlede. Gee ons asb die krag om te vergewe, die krag om dit te laat gaan, waaraan ons vashou maar niks kan verander nie. Laat daar asb 'n nuwe lied in ons mond wees, en dat 'n nuwe Lig in ons lewe begin skyn. In die Naam van ons Meester YESHUA, spreek ons vry sodat ons self ook vry kan wees. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
February 24, 2026
38. Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My. 39. En Hy het 'n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil. *** Kern gedeelte: "nie soos Ek wil nie, maar soos U wil" Ook in ons lewe sal daar tye kom wat sekere uitdagings bring, tye wat ons sal bid en vra VADER, as dit moontlik is, laat hierdie beker by ons verbygaan, nogtans nie ons wil nie, maar U Wil. Een ding wat ek deur die verloop van baie jare geleer het, GOD maak nie foute nie! Elke uitdaging, struikelblok, woestyn tyd en siekte wat ons moes oorkom, het ons net sterker gemaak, karakter gevorm en ons deursettings vermoë geleer. Nie alleen dit nie, dit het ons ook geleer om nie sommer net te besluit nie, maar om GOD te ken in elke saak en op Hom te vertrou om ons deur te dra. Maak nie saak wat jou probleem vandag sal wees nie, gee die eerste tree, en GOD sal jou die krag gee, Hy sal jou deurdra, maar jy moet volhard in Sy plan vir jou lewe. ------- GEBED. VADER, soveel keer stap ons weg van U plan vir ons lewe, mis ons die deurbrake wat U reeds vir ons voorberei het, omdat ons nie U plan vir lewe volg nie. Vandag kom ons voor U en vra, nie soos ons wil nie, maar soos U Wil, want ons weet dat U ons reeds tot hiertoe gedra het, krag gegee het, ons vesterk het. Daarom kan ons ook vanoggend sê, met my GOD loop ek 'n bende storm, met my GOD spring ek oor 'n muur. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir krag om te volhard, en nie langs die pad op te gee nie. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
February 23, 2026
13. Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. 14. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg. *** Kern gedeelte: "Vrees God en hou sy gebooie" Daar is soveel verwarring oor wat is reg en wat is verkeerd, en tog is die Woord van GOD so eenvoudig dat selfs 'n kind dit kan verstaan. In Mattheus 6:33 staan geskrywe: Soek eers die Koningkryk van GOD en Sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. As jy GOD se gebooie noukerig lees en verstaan wat jy lees, sal jy in die eerste vier gebooie jou verhouding met GOD verstaan en in die laaste ses, die verhouding tussen mens en mens. Dan begryp ons beter wanneer die Prediker sê: Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Moenie dat mense jou verwar nie, lees self GOD se Woord, spandeer tyd in gebed, en die waarheid sal jou vrymaak. *** GEBED. VADER, laat U Heilige Gees die sluier oor ons oë lig sodat ons die Waarheid vannU Woord kan sien en verstaan. Leer ons asb om weer te glo soos 'n kind en nie in twyfel te staan teenoor U beloftes nie, want U is 'n Waarmaker van U Woord. Laat die boodskap van U Evangelie nie by ons bly nie maar dat ons die waarheid van U Woord versprei met elke geleentheid. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir GOD geseënde lippe wat slegs die waarheid sal spreek. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
February 20, 2026
41. En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? 42. Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. *** Kern gedeelte: "Waak en bid" Die ouer mense het altyd gesê, nee kyk, nou het ek alles gesien! Maar vandag wil ek vir jou sê, nee, jy het nog nie alles gesien nie, want elke dag voeg die "verderwer" 'n nuwe verleiding, in hierdie wêreld by, 'n nuwe wapen wat jy tot struikeling kan bring. Moenie vir een oomblik dink dat jy nie aangeraak sal word deur die sondes en verleiding van hierdie wêreld nie. Alles wat 50 jaar terug ondenkbaar was vir ons ouers, is nou in ons huise en lewens deur middel van media, TV, en Selfone. Nie een van ons is kwytgeskeld nie. en daarom is hierdie boodskap so dringend vanoggend. Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. ------- GEBED. VADER, in hierdie oggend kom ons voor U en belei ons sondes. Ons laat dinge toe wat nie in ons lewens hoort nie en ons maak ons huise oop vir sondes en ons gee toegang tot ons gesin deur goedkeuring daarvan. Gee ons asb die krag om van vandag af, sonde op die naam te noem en laat ons dit nie in ons huise of ons lewens toelaat nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir vergifnis van ons dubbele standaarde. Gee ons asb vandag die krag om te breek met die sonde. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings