MATTHÉÜS 21:20-22 AFR53
20. En toe die dissipels dit sien, was hulle verwonderd en sê: Hoe het die vyeboom so onmiddellik verdroog?
21. Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see — sal dit gebeur.
22. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.
***
Kern gedeelte:
"as julle geloof het en nie twyfel nie"
'n Fontein kan nie bitter en soet water lewer nie, en net so min kan 'n boom goeie en slegte vrugte dra!
Maar daagliks doen ons presies dit met die woorde van ons mond.
In gebed pleit ons voor GOD oor alles wat ons nodig het, oor dit wat ons wil doen, oor die pad vorentoe en keuses wat ons moet maak.
Maar die oomblik as ons van die gebed vloer af opstaan, spreek ons dood oor ons kinders, ons huise, huwelike, besighede finansies, gesondheid en toekoms.
Vandag wil ek dit vir jou duidelik maak, jou woorde skep jou toekoms want as jy geloof gehad het en nie getwyfel het nie, sou jy nie al hierdie negatiewe dinge gespreek het nie.
Almal maak foute, almal maak een of ander swak besluit, almal eindig soms waar ons voel dit is 'n doodloop straat, maar wat by die mens onmoontlik lyk, is by GOD moontlik, want ons dien 'n GOD wat 'n pad deur die see maak, ons dien 'n GOD van wonders.
Staan op, spreek lewe oor die situasie, beur vorentoe, en laat die res in GOD se hande.
-------
GEBED.
VADER, voor U staan ons vanoggend skuldig, met die negatiewe gedagtes wat die vrees in ons laat heers. Die lewe gaan oor besluite en ons is so bang om enige besluit te maak want wat as iets skeefloop. Wat as dinge nie uitwerk nie? Gee ons asb die krag om lewe te spreek oor elke situasie al lyk dit ook hoe onoorkombaar, want U my GOD bly in beheer.
In die Naam van ons Meester YESHUA, spreek ons lewe oor elke situasie, ons spreek dat bonatuurlike groei sal plaasvind selfs waar ons nie gesaai het nie.
Amen.
-------
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107






