OPENBARING 3:15-17 AFR53

April 24, 2025

15. Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!

16. Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.

17. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.


***


Kern gedeelte:

"EK ken jou werke"


In gister se boodskap, sê GOD vir ons, " en al die gemeentes sal weet dat dit EK is wat niere en harte deursoek, en EK sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.

Hoeveel van ons dien GOD met ons hele, siel en verstand, en hoeveel mense daar buite dien GOD, net om deur ander gesien te word?

Ek wil dit vandag baie duidelik maak, en as die boodskap jou nie geval nie, weet dat elke Whatsapp en Telegram applikasie het 'n blok knoppie en jy is welkom is dit te gebruik.

Maar weet, al loop jy dag en nag agter jou Prediker/Pastoor/Predikant of Leeraar aan, en al sit jy in die kerk totdat daar drukmerke op die houtbanke is, gaan dit nie jou saligheid bevestig nie.

Ons verlossing lê slegs in ons Verlosser, JESUS CHRISTUS, en wanneer ons aan Hom gelykvormig word, deur die riglyne van GOD se Woord nie net te lees nie, maar uit te leef, toe te pas in ons lewe.

Onthou, ons kan 'n Doring boom, 'n Appel boom noem, maar as die blomtyd verby, word die boom aan sy vrugte geken.

Met woorde kan voorgee dat jy warm is, maar deur jou dade word jou geloof bevestig.


-------


GEBED.


VADER, vanoggend se boodskap is moeilik want dit het soveel toepassing op my eie lewe, waar kleurvolle woordeskat en gedagtes van twyfel my lei na die weë van die wêreld, waar ek daarna neig om lou te begin word, en nie in alles, die Naam van my GOD op my lippe te hê nie, en soms ons hulp in wêreld te gaan soek. Vergewe ons asb ons sondes en ons swakhede.

In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die krag om weer ons aandag te vestig op dit wat ons moet doen, soos U Gees ons sal lei.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: +27716283207

March 4, 2026
8. Laat my u goedertierenheid in die môre hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U. 9. Red my van my vyande, Here! By U skuil ek. 10. Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in 'n gelyk land. *** Kern gedeelte: "maak my bekend die pad wat ek moet gaan" Baie oggende wanneer ek reeds van half twee of twee uur op die pad is, het ek baie tyd om met GOD te praat, dit wat verby is te hersien, weer te deurdink en te leer uit my foute, te kyk waar ek nie aan GOD se leiding deur Sy Heilige Gees gehoorsaam was nie. Ook kyk mens na die prys van ongehoorsaamheid, die ompaaie wat ek dan moes stap. Wanneer jy tyd neem en GOD se plan in hersiening en oorweging neem, raak dit makliker om die struikelblokke raak te sien wat die "verderwer" in jou pad plaas. Dan word GOD se Woord 'n lamp vir jou voet en 'n lig vir jou pad. Een ding wat ek egter nie doen nie, is om my te bekommer oor die dag van môre nie, want die volgende keer wat GOD nie voorsien nie, sal die eerste keer wees. ------- GEBED. VADER, uit U hand kom ons leiding, voorsiening, beskerming en berusting. In hierdie oggend, te midde van alles, wil ons aan U die eer gee, ons wil U loof, prys en dank, U Naam groot maak. Leer ons om U welbehae te doen, want U is ons God. Laat U goeie Gees ons lei in 'n gelyk land. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat ons die goedheid van GOD sal raaksien in hierdie dag. Amen.  ••••••• Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
March 3, 2026
7. sodat julle voorbeelde geword het vir al die gelowiges in Macedónië en Acháje. 8. Want van julle uit het die woord van die Here weerklink nie alleen in Macedónië en Acháje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan, sodat ons nie nodig het om daar iets van te sê nie. *** Kern gedeelte: "maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan" Jy is nie geroep om met vrees deur die lewe te gaan nie, maar met die Krag van GOD, om in outoriteit te beweeg, en die Evangelie van JESUS CHRISTUS te verkondig, tydig en ontydig. Moenie na spesiale plekke soek om GOD se Woord te verkondig nie, maar doen dit daar waar jy is, doen dit op elke plek. Waar jy vandag geplaas is, wie jy ookal ontmoet, onthou dat GOD maak nie foute nie, iemand wag op 'n Woord en jy is gestuur om dit uit te dra. ------- GEBED. VADER, dankie dat U ons vanoggend daaraan herhinner, dat maak nie saak waar ons is nie, ons primêre taak is om U Woord uit te dra en die Evangelie van U Seun te verkondig. Gee ons asb die krag om nie terug te staan nie, maar dat ons vorentoe sal beur, in die krag van U Heilige Gees. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U Woord lewendig op ons lippe sal wees. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
March 2, 2026
21. omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. 22. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword *** Kern gedeelte: "Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is" Soos die gesegde gaan, meng jou met die semels en die varke vreet jou op. As jy met mense omgaan wat die grootheid van GOD nie erken, en nie aan GOD die eer gee nie, gaan jy die pad byster raak. Sistematies met tyd, sal jy dwaas word in jou oorlegginge en jy sal 'n onverstandige hart groei wat in die duisternis van die wêreld leef. Die Lig van JESUS CHRISTUS sal nie meer in jou gesien word nie en ook nie meer deur jou kan skyn na ander toe nie. Wees versigtig met wie jy omgaan, met wie jy jou bevriend, wie jy in jou huis en jou lewe toelaat. Soos 'n dief in die nag sal die sonde jou oorval en jy sal deel word van die wêreld en die oordeel van GOD wat vir hulle beplan is. Onthou hierdie gesêgde: Meng jou met die semels, en die varke vreet jou op. ------- GEBED. VADER, in U Hand is ons veilig en solank U Heilige Gees ons lewens vul, ons verlig om in U Waarheid te wandel, kan die duisternis nie vatplek kry nie. Laat ons asb vanoggend besef dat duisternis bloot net die afwesigheid van lig is en dit kan ons net binnedring wanneer U Gees nie in ons teenwoordig is nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons die U Lig van Verlossing nie net in ons sal skyn nie maar ook deur ons. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
February 27, 2026
1. Welgeluksalig is die man wat die Here vrees, wat 'n groot welbehae in sy gebooie het. *** Kern gedeelte: "Welgeluksalig is die man wat die Here vrees" Ek wil nie graag iets byvoeg nie, maar wil uit die Woord lees hoe dit met 'n mens gaan wat GOD vrees, en sy gebooie onderhou. * Sy nageslag sal geweldig wees op die aarde die geslag van die opregtes sal geseën word. * Oorvloed en rykdom is in sy huis en sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid. * Vir die opregtes gaan Hy op as 'n lig in die duisternis, genadig en barmhartig en regverdig. * Gelukkig die man wat hom ontferm en uitleen, wat sy sake volgens reg besorg. * Want hy sal nooit wankel nie, die regverdige sal in ewige gedagtenis wees. * Hy vrees nie vir slegte tyding nie, sy hart is gerus, vol vertroue op die Here. * Vas is sy hart, hy vrees nie, totdat hy op sy teëstanders neersien. * Hy strooi uit, hy gee aan die behoeftiges, sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid, sy horing word verhoog in eer. ------- GEBED. VADER, Dankie dat U ons vanoggend daaraan herhinner om in die respekvolle vrees van GOD te leef, U gebooie te onderhou en onpartydig opreg teenoor ons naaste te lewe. Laat U Heilige Gees asb vir ons wys waar ons die pad byster raak en nie volgens U Wil leef en optree nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir U Leiding, Wysheid en Insig in ons lewe. Amen.  ••••••• Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
February 26, 2026
18. En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. 19. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. *** Kern gedeelte: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies" Hoe stap ons hierdie nuwe dag in? Of dit goed gaan en of dit sleg gaan, ons het een van twee keuses hoe ons die wêreld gaan instap! Ons kan instap met 'n gesindheid van nederlaag waar die wêreld ons oorwin het, waar ons spreekwoordelik soos varke in die modder rol, of ons kan instap met die oorwinning van JESUS CHRISTUS in ons lewe. Waar jy met die outoriteit waarmee GOD jou beklee het hierdie dag instap, ander mense bemoedig en stap in die respekvolle vrees en vreugde van ons Skepper, dan kan niks jou van stryk bring nie Dan sal mense JESUS CHRISTUS se Lig deur jou sien skyn, en jy sal nie net met leë woorde die Evangelie van Verlossing verkondig. As jy praat sal GOD se Heilige Gees jou die woorde gee om in outoriteit te spreek, dissipels te maak en hulle te doop in die Naam van die VADER, die SEUN EN HEILIGE GEES. ------- GEBED. VADER, dankie vir hierdie nuwe dag, 'n nuwe geleentheid om U Woord uit te dra, soms met woorde, maar meer dikwels sonder woorde. Waar die mense kan sien dat U in ons leef en dat ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig is nie, maar ons spreek lewe oor ander, en die vrug van U Heilige Gees is sigbaar in ons lewe. Laat ons nooit versuim om U Woord te verkondig en te versprei nie. In die Naam van ons Meester YESHUA, spreek ons lewe oor elkeen wat nog in die wêreld vasgevang is, want U Lig nog nie kan sien nie. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
February 25, 2026
11. gee ons vandag ons daaglikse brood; 12. en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; 13. en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. *** Kern gedeelte: "soos ons ook ons skuldenaars vergewe" Ons almal glo dat ons die argitek van ons lewens is, maar dit is slegs waar wanneer ons, ons eie kop volg. In hierdie proses maak ons mense seer en word ons deur mense seergemaak en dan begin siklus van onvergifnis. Ons bou mure van isolasie, mure van onvergifnis rondom ons. Onvergifnis is om daagliks 'n klein dosis gif in te drink en te dink dat iemand ander daarvan gaan doodgaan. Die onvergifnis vernietig jou lewe, en die persoon wat jou leed aangedoen het stap skotvry weg. Maar wanneer ons met die saak voor GOD kom en ons sê, VADER ek het vergewe en ek laat hierdie saak nou aan U oor, dan sal jy sien hoe GOD vir jou veg. ------- GEBED. VADER, dankie dat U vanoggend vir ons sê dat ons die verlede moet los waar dit hoort, in die verlede. Gee ons asb die krag om te vergewe, die krag om dit te laat gaan, waaraan ons vashou maar niks kan verander nie. Laat daar asb 'n nuwe lied in ons mond wees, en dat 'n nuwe Lig in ons lewe begin skyn. In die Naam van ons Meester YESHUA, spreek ons vry sodat ons self ook vry kan wees. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings