I KORINTHIËRS 10:12-13 AFR53
12. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
13. Geen versoeking het julle aangegryp behalwe 'n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.
****
Kern gedeelte:
"maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee"
In die sirkel van die lewe sal jy herhaaldelik versoek word totdat jy hierdie versoeking, hierdie sonde waarmee jy worstel, oorkom het.
En die oorwinning oor die sonde is eenvoudig, maar ons kan die oplossing nie sien nie, omdat die duisternis nog oor ons heers.
Dit is eers wanneer ons JESUS CHRISTUS in ons lewe in nooi, dat Sy Lig, die waarheid na vore sal bring, vir ons wys dat deur volharding in gebed, standvastigheid in geloof, en die keuse om jou weg te draai van die sonde, die oorwinning sal bring.
Maar as jy vanoggend nog in hardkoppigheid bly staan, gedurigdeur die fout by ander gaan soek, en nie erken dat jy 'n probleem het nie, dan meen jy dat jy nog staan, terwyl jou val reg voor die deur is!
Die dag van môre is nie vir een van ons gewaarborg nie, los alles waarmee jy besig is, sorteer dit wat op jou hart is vandag met GOD uit want môre is dalk te laat.
Onthou "Geen versoeking het julle aangegryp behalwe 'n menslike nie"
-------
GEBED.
VADER, geen mens is so blind soos 'n mens wat nie wil sien nie. Paulus het ook blind deur die lewe gegaan, geglo dat dit wat hy doen reg was, totdat U Lig hom omstraal het op die pad na Damaskus. Deur U Lig en U teenwoordigheid in sy lewe kon hy tot die waarheid kom en kon hy hom wegdraai van sy weë en die pad volg wat U vir hom uitgelê het.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat die skille van sonde vanoggend van ons oë sal afval sodat ons, ons eie sonde sal raaksien en sal bely voor U.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107





