LUKAS 24:48-49 AFR53

March 27, 2025

48. En julle is getuies van hierdie dinge.

49. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte. 


***


Kern gedeelte:

"totdat julle toegerus is met krag"


Ons kan nie beweeg as ons nie toegerus is met die krag van GOD nie, en ook kan die Heilige Gees vir 'n tyd van ons ontrek, as ons volhard om slegs die weë van die wêreld te volg en elke versoeking van die "verderwer" na te jaag.

Ook in my lewe was daar 'n tyd wat ek die keuse moes maak, wie ek in my tempel, my gedates, wil en emosie toelaat.

Eers nadat ek gekies het om GOD bo alles te stel, om Hom voluit te dien en toe te laat dat Hy my lewe rig volgens Sy Wil en Sy Weg, kon ek weer die teenwoordigheid van GOD se Heilige Gees ervaar.

As jy vanoggend in die donker is, verlore voel in hierdie wêreld, weet dat jou Verlosser leef, en jou gebed sal vir jou die deure oopmaak sodat jy weer jou pad na Sy Lig sal vind.

Jy is nie alleen nie, GOD is met jou, en waar jou menslike krag op 'n einde gekom het, begin die Wonderwerkende Krag van GOD eers in jou lewe werk.


-------


GEBED.


VADER, vir ons sal dit beter wees om te wag totdat ons toegerus is met U Krag voor ons onself weer begewe in die keuses, die doolhof van hierdie wêreld, waardeur slegs U Heilige Gees ons kan lei. Neem ons asb vandag aan die hand en lei ons terug na die pad van Verlossing, deur U seun.

In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die inwerking van U Heilige Gees in ons lewe.

Amen.


•••••••



Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za

Sel: +27725104040

April 16, 2025
6. Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. 7. So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei. 8. Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. *** Kern gedeelte: "maar GOD wat laat groei" Hierdie is een van die grootste slaggate, struikelblokke of gevare in elke kind van GOD se lewe, of jy in die bediening staan of nie. Ons raak frustreerd deur ons onvermoë om by mense in te dring, die boodskap duidelik en helder oor te dra en hulle op die pad na JESUS CHRISTUS toe te lei. Hier is die harde waarheid, jy kan niks verander nie, niemand lei, of tot bekering bring nie. Dit is die werk van GOD, deur die inwerking van Sy Heilige Gees. Ons kan mense van ons Verlosser vertel, die genade van GOD wat vir elkeen beskikbaar gestel is, ons kan lewe sodat ander die Lig van ons Verlosser in ons kan sien, maar meer as dit is nie in jou hande nie. Dit is elkeen se persoonlike keuse om tot bekering te kom, wanneer hulle GOD in hulle lewe toelaat deur JESUS CHRISTUS wat vir ons aan die kruis gesterf het. Die Heilige sal laat groei, wanneer en soos nodig om GOD se perfekte Wil vir ons lewe te bereik. Saai jy net die saad en beweeg aan, die bloed is nie meer op jou hande nie. Die persoon is gewaarsku! ------- GEBED. VADER, wie ore het, laat hom hoor. Ons beweeg in sirkels en bedien oor en oor op dieselfde plekke, waar verandering nie deur ons gebring gaan word nie. Daarom stagneer ons, raak ons frustreerd maar ons besef nie dat dit tyd is om aan te beweeg nie. Open asb ons oë en wys vir ons wanneer dit tyd is vir verandering. Laat ons vatbaar wees vir die stem van U Heilige Gees wat ons op 'n nuwe pad gaan lei. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir 'n nuwe rigting in ons lewe en in ons bediening, soos U dit op ons hart geplaas het. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: 0716283107
April 15, 2025
8. Die Here van die leërskare is met ons; die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons. 11. Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde. 12. Die Here van die leërskare is met ons; die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons. *** Kern gedeelte: "Laat staan en weet dat Ek GOD is" 'n Ander vertaling lees , Wees stil en weet dat ek GOD is. Ongeag, ons hou aan karring met dit wat verby is, en ons bly terugkyk en hoop op dinge wat nooit weer sal wees nie. GOD het jou rigting verander, en in jou beproewing, lê jou oorwinning! Omdat ons nie erken dat GOD ons Rots en Vesting is nie, Hom nie volkome vertrou nie en stagneer in ons geloof, sal GOD jou omgewing, jou situasie en jou gemaksone vir jou verander, want daardeur sal jou oorwinning kom. Jou beproewing baan die weg na jou oorwinning. Laat staan die verlede, wees stil, en weet GOD is in beheer! As jy in geloof sal bly staan, weet dan dat die Here van die Leërskare is met jou; die GOD van Jakob is 'n Rotsvesting vir jou. Onthou moeilike tye groei karakter, en wat vandag jou stryd is, word jou boublokke na die pad van oorwinning in die dag van môre. ------- GEBED. VADER, ons vra dat U Heilige Gees kalmte oor ons sal bring, en dat ons sal besef dat ons was nog nooit in beheer van die situasie van vandag, of wat voorlê in die dag van môre nie. Gee asb aan ons die vermoë om te laat gaan, stil te word, en te weet dat ons GOD is in beheer. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir U Leiding, U Wysheid en U Insig in ons lewe. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: 0716283107
April 14, 2025
6. Betroubare regsleer was in sy mond, en onreg is op sy lippe nie gevind nie; in vrede en opregtheid het hy met My gewandel, en baie mense het hy van ongeregtigheid teruggebring. 7. Want die lippe van 'n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is 'n boodskapper van die Here van die leërskare. 8. Maar júlle het van die weg afgewyk, julle het baie deur jul onderrig laat struikel, julle het die verbond met Levi verbreek, sê die Here van die leërskare. *** Kern gedeelte: "Want die lippe van 'n priester moet kennis bewaar" Bitter min mense in vandag se tyd, spandeer nog werklik tyd in GOD se Woord, met 'n dieper soeke en behoefte na die waarheid. Daar is soveel valsheid en verdraaide leringe daarbuite, en die volk gaan ten gronde weens 'n gebrek aan kennis. Want ons glo net wat ons hoor, en ons bevestig nie wat die Skrifte sê nie. Dan wonder ons hoekom die bruid van Christus, die Kerk van JESUS CHRISTUS, sy glans en glorie verloor het en die gemeenskaplike byeenkomste 'n samesang van sonde geword. Daarom waarsku GOD die priesters in vers 9, wat sal gebeur as hulle sy Woord verdraai: So maak Ek julle dan ook veragtelik en gering by die hele volk, omdat julle my weë nie hou nie en partydig handel by die regspraak. ------- GEBED. VADER, ons vra net vanoggend dat U Heilige Gees aan ons die Waarheid sal openbaar wanneer ons tyd in U Woord deurbring. Beskerm ons asb teen die dwaal leer wat die norm van ons tyd geword het. Rig ons asb in U weg van onpartydige opregtheid. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat die waarheid van U Woord weer tot ons sal deurdring. Amen. •••••••  Wetuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
April 11, 2025
2. Dien die Here met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel. 3. Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, sy volk en die skape van sy weide. 4. Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam. *** Kern gedeelte: "Dien die Here met blydskap" Ek kyk rondom my, dan sien ek hoe kinders van GOD worstel met die sake van die wêreld. Hoe bekommernis, depressie en angstigheid, hulle van hulle lewens vreugde ontneem. Wanneer ons meer tyd met GOD spandeer, nader aan Hom beweeg sal jy vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan. As jy vanoggend voel dat alles vir jou te veel raak, weet dat jy tot alles in staat is deur JESUS CHRISTUS wat jou die krag gee. Daarom neem die tyd wat jy in bekommernis deurbring en spandeer dit in gebed. Dank GOD vir dit wat jy het, en moenie bekommerd wees oor jou tekortkomimge nie, GOD weet reeds dat jy voorsiening en genesing nodig het. Die kinders van die wêreld jaag agter hierdie dinge aan, maar GOD gee dit aan sy beminde in sy slaap. ------- GEBED. VADER, daagliks oortuig die media platforms van die wêreld ons dat ons nie goed genoeg is nie en dat ons dit nie gaan maak nie. Ons loof U nie in vreugde nie, en dien U nie met blydskap nie, omdat ons in vrees lewe en die leuens van die "verdêrwer" glo. Open asb oë sodat ons waarheid sal sien, in ons gees kalm sal wees met die wete dat ons GOD in beheer is. In die Naam van ons Meester YESHUA, vra ons vir kalmte van gemoed en helderheid van verstand. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
April 10, 2025
9. Daarom, so sê die Here Here: Wee die bloedstad! Ék sal ook die houtstapel groot maak. 11. En laat dit leeg op sy kole staan, dat dit warm kan word en sy koper kan gloei en sy onreinheid kan smelt in hom — sy roes verteer kan word. 12. Dit het My met moeite oorlaai, en sy baie roes gaan nie van hom af nie. Sy roes moet die vuur in! *** Kern gedeelte: "Sy roes moet die vuur in!" As kind het ek dikwels hierdie woorde by my ma gehoor, vat die pot en gaan brand hom skoon. Jy kan skuur tot vervelens toe aan daardie pot, maar die roes het bly sit en wanneer jy kos probeer kook, trek die roes in die kos in. So is ons lewens ook maar dieselfde, GOD kan skuur aan ons lewe deur die inwerking van Sy Heilige Gees, maar as ons verhard geraak het, die roes van sonde te veel is, is daar net een manier. Ons moet deur die vuurproef van die lewe gaan, en dit is eers wanneer ons daardeur is, dat ons besef hoe vuil en vol roes ons lewens eintlik was. GOD praat en dit sal kom, want ons GOD is nie net 'n GOD van barmhartigheid nie, maar ons GOD is ook 'n verterende vuur. Daar lê vanoggend twee paaie voor ons oop, die pad van bekering, deur JESUS CHRISTUS, of die pad wat deur die vuuroond van die lewe gaan, waar die roes van die sonde uit ons lewens weggebrand moet word, sodat ons weer bruikbaar voor GOD kan staan. ------- GEBED. VADER, dit is in ons menslike natuur dat ons eers moet voel, voor ons sal luister. Mag ons vandag by hierdie vurk in die pad, die regte besluit maak, die besluit van bekering en Verlossing deur U Seun. Laat ons skoon kom, voor ons roes van sonde ook in ander se lewens sal begin inwerk. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons dat U Woord vandag, die Lamp vir ons voet en die Lig vir ons pad sal wees. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
April 9, 2025
1. TOE het God al hierdie woorde gespreek en gesê: 3. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. 6. en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou. *** Kern gedeelte. "Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie" Elke mens, ongeag in watter stand van die lewe, het 'n soeke na iets, 'n liefde vir dit wat hom dryf. Maar hier is die waarheid, as jy nie GOD liefhet nie, sal jy iets anders liefhê. En enige iets wat ons bo GOD stel, is 'n afgod. Ek gaan nie vanoggend weer alles lys nie want elkeen wat hierdie boodskap lees of luister, weet wat in hulle lewe aan die gang is, hulle weet wat is die dinge wat hulle bo GOD stel. GOD se Woord is duidelik, jou moet die HERE jou GOD liefhê met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand. Kom ons onthou gerus hierdie Engelse stelling: If GOD is anything to you, then HE is everything to you, but if GOD is not everything to you, then HE is not anything to you. ------- GEBED. VADER, ek staan vanoggend in nederigheid voor U, met die besef in my hart dat ek nog steeds soveel dinge in my lewe voor U stel. Ons hoef net te kyk na die begeertes van die oë, na die dinge wat ons gedagte-gang beheer, en ons aan die wêreld vasmaak. As ons soek sal ons vind, en hierdie antwoord is voor die hand liggend. In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die waarheid, want die waarheid sal ons vrymaak. Amen. •••••••  Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za Sel: +27716283107
Meer Plasings