SAGARÍA 4:5-6 AFR53
5. En die engel wat met my gespreek het, antwoord en sê vir my: Weet jy dan nie wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer.
6. Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die Here aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die Here van die leërskare.
***
Kern gedeelte:
"maar deur my Gees"
Soms voel dit of sake in ons lewe nie wil verander nie, ongeag hoe hard ons probeer.
En dit is presies waar die probleem inkom, omdat ons nie kan wag nie en alles self wil reg forseer.
Ek sê nie dat ons geen ambisie of dryf in ons lewe moet hê nie, maar wat ek wel sê is dat GOD eers die saak moet bevestig voordat ons die nodige dryf en ywer toepas om dit te bereik.
Onthou altyd, die windpomp gaan soek nie die wind nie, alles gebeur op die regte tyd.
So ook in ons lewe, bid, wag op GOD, en wanneer die Heilige Gees winde van verandering deur jou lewe laat waai, sal dit water van lewe voortbring wat niemand kan stop nie.
As GOD eers begin werk, wie kan dit keer?
Daarom sê ek vanoggend, hou op dinge forseer, hou op om agter die leë beloftes van hierdie wêreld aan te hardloop.
Wanneer GOD 'n deur toemaak, kan niemand dit oop forseer nie, maar wanneer GOD deure open, kan niemand dit sluit nie.
Onthou deurlopend soos dit in GOD se woord geskrywe staan:
Nie deur krag of geweld nie, maar deur my Gees!
-------
GEBED.
VADER, dikwels moet ons hieraan herhinner word, want met elke nuwe "geleentheid", wat die "verderwer" op ons pad plaas, begin ons dit najaag, want dit voel of ons dit kan bereik, dit kan verkry as ons dit net so bietjie druk, so bietjie forseer. Maak ons asb vanoggend bewus van die feit dat U 'n GOD van wonders is wat sake in 'n oogwink verander, wat deure oopmaak sonder om iets te forseer.
In die Naam van ons Meester YESHUA, bid ons vir die geduld om te wag sodat die regte verandering in U tyd sal plaasvind.
Amen.
•••••••
Webtuiste: https://tentvansamekoms.co.za
Sel: +27716283107






